Published: 8 July 2024
Ek deel graag uittreksels uit die artikel deur Dudley en Helena Garner (gebore Kriel) wat gepubliseer is in Familia-uitgawe 4 van 2020, die vlagskipjoernaal van Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika. Dankie aan Dudley en Helena vir die vrygewige deel van inligting en familiefoto’s. Genealogiese data sal in die databasis beskikbaar wees.
Twee Van Rooyen stamlyne ontmoet weer na 194 jaar – Dubbele Van Rooyen-gesin
deur Dudley en Helena Garner
My (Dudley) moeder, Gertruida Catharina Johanna Garner née Van Rooyen, se notas
My Pa, Gerhardus Johannes van Rooyen
Volgens wat my Pa vertel het, het hulle in Brandfort-distrik [moontlik eerder Winburg distrik wat Brandfort en Wesselsbron ingesluit het] gewoon toe hy ongeveer twaalf jaar oud was. Staaltjies uit sy kinderdae wat hy graag vertel het, was van ouma Rachel (née Shaw) – sy moeder. [Sy was die dogter van Thomas Shaw en Sarah Lawson.] Sy was glo baie vinnig van humeur en op haar eer gesteld.

Gedurende die tyd het ‘n broer van ouma Rachel – Shaw was die van – die naam onthou ek nie meer nie [William] op Bloemfontein gewoon – Die familie Shaw het glo in Bloemfontein gebly – Omdat my Pa dan skrander en intelligent blyk te gewees het, het die oom van hom, aangebied om hom by hom te neem sodat hy daar kan skoolgaan – Hy sou na hy eers voorbereidende onderrig ontvang het na die Grey Kollege Skool kon gaan. Dit was een van die beste skole, maar hy het nie baie van die idee gehou en na hy ‘n tydjie in Bloemfontein was, het hy net eendag op die trein geklim en teruggegaan na Brandfort. Ek meen hy het van Brandfort af na die plaas geloop. [‘n Afstand van ongeveer 75 km. Die plaas is ongeveer 15 kilometer suid van Wesselsbron geleë.].
Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het hy onder Generaal Cronje geveg teen die Engelse en is saam met sy Vader en ‘n swaer van hom [Piet van Eeden, getroud met ‘n ouer suster] by Paardekraal gevange geneem en as krygsgevangenes na St Helena gestuur. Na die oorlog is sy Vader oorlede en op die swaer – Piet van Eeden se plaas [Johnasonshoop] begrawe – ook ‘n broer – Willie wat gedurende die oorlog – hy was maar 16 jaar – doodgeskiet is, is daar begrawe.
Pa het nou by die swaer Piet en suster Kitty van hom ingewoon en met die boerdery gehelp – Hy is uit hulle huis met my Ma Regina Dorothea ook van Rooyen, getroud en het later weer by hulle (Van Eedens) op die plaas gewoon en boerdery help bestuur.
Die swaer Piet en suster Kitty van Pa het vir ons Ouma en Oupa geword. My oudste broer Gert het hulle vir hulle as kind aangeneem, aangesien hulle geen kinders gehad het nie. Later het hulle ‘n susterskind (suster is oorlede) ook aangeneem – Haar naam was ook Kitty – My ouers het ongeveer vanaf 1938 op die dorp Wesselsbron gaan woon. Ouma Kitty en Oupa Piet is daarna oorlede en op die plaas – Johanneshoop [Johnasonshoop] begrawe.
Pa het ‘n groot groenteboerdery op die groot erf bedryf en ook ’n melkkoei aangehou. Pa is eerste dood, in 1951, amper 3 jaar daarna my Ma en in die begraafplaas op Wesselsbron begrawe. Ouma Rachel het na my Pa se pa oorlede is by ‘n dogter [Catharina Elizabeth Margaretha Barnard (Lizzie)] hier in Transvaal kom bly – Die dogter was met ‘n Steynberg [Nicolaas Jacobus] getroud – ‘n Ander dogter (jongste) Emmie het ook saam met haar gebly en is eers na haar dood getroud – vergeet met wie en het in Machadodorp gewoon. [Ouma Rachel is in Machadodorp begrawe. Graf No 28].
Een staaltjie uit sy kinderdae wat hy graag vertel het, was van ouma Rachel – sy moeder. ‘n Sekere persoon of kennis moes glo pampoene wat sy as ‘n deel moes kry, by haar kom aflaai – Die pampoene was na haar mening darem treurig en klein en sy het vermoed dat hy al die kleintjies en swakstes vir haar kom uitdeel het. Die kennis was intussen op weg na ‘n ander bestemming en sou later met dieselfde pad terug kom na sy huis – Gou het sy die gewraakte pampoene van ‘n werker met ‘n kruiwa laat uitstoot pad toe en mooi netjies in rye in die pad laat pak. Dit sou dan genoeg bewys wees vir die genoemde persoon om te sien wat sy van sy eerbaarheid en handelswyse dink.
‘n Ander staaltjie wat ek onthou wat my Pa ook van haar vertel het, was ook van haar vinnige humeur en puntenerigheid. Hierdie keer was dit ‘n buurman wat ’n boud skaapvleis by haar geleen het. Na daar nou weer skaap geslag is, het die buurman dan ook met die skaapboud daar aangekom, maar ongelukkig net sommer so, sonder om dit eers in ‘n houer of sakkie of bedekking te plaas – Sonder om ‘n woord te sê – net toe die man omdraai om weer te loop, het sy die skaapboud agterna gegooi – Hy het hom natuurlik doodgeskrik – Sy het toe mooi aan hom verduidelik om nie sommer vleis aan haar so onbedek te bring nie.

My ma, Regina Dorothea van Rooyen (née van Rooyen) My Ma het my graag vertel van haar lewe in die Kaap Kolonie, waar sy in die distrik Cradock op ‘n plaas gebore is en groot geword het, ‘n deel van die dorp [nie Cradock nie maar Riebeek-Oos, ‘n kleiner dorp in die distrik] was op die plaas waarop hulle gewoon het. Sy het baie vertel van uitstappies per veerwaens deur perde getrek en kuiertjies na buurplase – ook van die onderwyseres wat by hulle gebly het en haar naaldwerk geleer het. Sy – dis my ma, kon natuurlik baie goed borduur en naaimasjienwerk doen. Sy het al ons kinders se klere self gemaak – en dit was besonder netjies – hemde en broeke selfs vir my Pa, kon sy baie goed maak – Sy is baie lastig geval deur ander mense wat maar gedurig wou hê dat sy vir hulle ook moes klere maak.
Sy het ook vertel van my oupa – dit is haar Pa – Hoe hy daarvan gehou het om altyd baie netjies gekleed te wees – selfs al het hy na die skape gaan kyk – hy was ‘n skaapboer – Selfs die saal en toom van die perd moes blink. My ouma wat die stamnaam gehad het en wie se naam ek ook het, het ‘n groot huishouding gehad om waar te neem – tesame met voedsel voorsien vir die plaaswerkers, was daar baie te doen – Vir die bediendes is ook brood gebak – growwe meel – vir die huismense natuurlik witbrood en beskuit – Dit is gedoen in groot buite bakoonde.
Die plaas waarop hulle gewoon het, is later met ‘n boedeluitverkoping verkoop en aan erfgename uitgedeel – Die stiefkinders wat later ingekom het – het natuurlik soos so baie keer die geval is die ander kinders aan die kortste end laat trek – Met die gevolg dat hulle opgepak het en na die Oranje Vrystaat getrek het – met hulle troppe skape en al – In die Vrystaat het die skape gevrek en na ‘n klompie jare het die seuns maar verkoop en gaan werk – hulle wat gewoond was om base te wees moes nou vir base werk.
My eie storie (Gertruida Catharina Johanna Garner née Van Rooyen) Op die plaas Johanneshoop [Johnasonshoop] het ons klompie kinders baie lief en leed deurgemaak. Ons lekkerste speelplek was op die stuk grond wat vroeër land was wat waaisand geword het. Plekke was daar sulke bultjies waar gras op gegroei het. Hierop en oor het ons baljaar, sandhuisies in die klam sand gebou ook donkies gery, want as ons afval kry ons nie seer op die sand nie.
Ook was al wat kind is by as daar gedors word – Groot wit hope mielies moes gedors word – Ons kinders het natuurlik te heerlik op die blare baljaar – maar moenie praat van die brand as ons die aand moes bad nie – Simpatie het ons natuurlik nie gekry nie – In die tyd voor daar in die deel nog dorsmasjiene was is die blare van die mieliekoppe afgetrek – en ons moes almal help, ook om die pitte af te draai in ‘n klein handdorsmasjientjie.
My Pa het ons ook laat help met die oes van die mielies. Hierdie lewe was nie te lekker nie – Baie keer het ons weggesluip maar dan het my Pa ons kom soek en met die belt of kruisbande weer aangekeer. Verder kon ons van alles op die plaas geniet, soos vrugte, waatlemoene en spanspekke. Ook soms van die wat verbode was gesteel en skelm opgeëet. In die tuin het ons ook gehelp skoffel en natlei of blomtuin natdra – Daarvoor het ons gewoonlik ‘n lekker dik sny varsgebakte brood met tuisgemaakte botter op gekry – Ek en Kitty [‘n niggie] was natuurlik die twee wat oral by was – Die seuns was merendeel op die lande of by die vee besig. Ons moes ook skape oppas. Wat ons baie geniet het – want ons het meer gespeel as om na die skape te kyk. Ons moes dan soms ver loop om hulle weer aan te keer.
Een oggend op pad skool toe het die bure se kinders my op hulle donkie karretjie gelaai – Op een of ander manier het my voet in die wiel tussen die speke beland – My been het op ‘n paar plekke gebreek. ‘n Mnr Le Grange wat sy kinders met sy motor (die eerste ou Ford motortjies) na die skool gebring het, het my in sy motor huistoe geneem – Ou Oom Koos Fourie het my been kom reguittrek en gespalk – na wat vir my soos jare gevoel het kon ek weer loop en skool toe gaan.
My vroegste herinneringe uit my kinderdae was dat ek altyd weggeloop van die huis om tussen die gras en biesies wat langs en om ‘n brakdammetjie gegroei het te gaan speel en sommer as ek moeg was daar heerlik te lê en uitslaap. Moontlik het my Ma my gesien en geweet ek was veilig want sy het my nooit kom haal of soek nie. Gedurende hierdie tyd het my Ma en Pa al op Johanneshoop by my Ouma Kitty en Oupa Piet van Eeden gebly (eintlik Tant Kitty en Oom Piet van Eeden). My oudste broer Gerhardus (Gert) het hulle toe al by hulle gehad en beskou as hulle kind – Kitty Steyn ‘n suster wat dood is, se dogter het hulle ook aangeneem, maar dit was ‘n paar jaar later.
Ek kan onthou dat my Pa baie hard gewerk het met die ploeëry – van voor sonop af tot na sononder. My Ma was maar bedags alleen met ons en moes maar al die werk doen – Water moes aangedra word so ook vuurmaakgoed soos mieliestronke soms droë beesmis, of hout wat my pa by Vetrivier gaan haal het met ‘n wa. Met so ‘n rit het my jongste broertjie Dirkie en die ander seuns, Paul en Petrus ook saamgegaan. Dirkie was omtrent sewe jaar oud – Hy het sonstraal gekry of longontsteking want hulle het ‘n bietjie nat gereën en 24 uur later was hy dood, maar toe was ek al so 11 of 12 jaar oud.
Later moes ek die vuurmaakgoed en waterdraer wees – luiers was, soms wasgoed was en stryk ook as my Ma nie kan nie, ook die huis aan die kant maak en Vrydae skoonmaak. Ek het op sewejarige leeftyd skooltoe gegaan – Gert was toe al in die skool, maar toe al amper 9 jaar. Ek onthou goed hoe ek maar self moes bedink of raai wat alles beteken wat die onderwyser op die bord skryf – Ek het maar vir ‘n maatjie langs my – ‘n Fouriedogtertjie gevra wat alles beteken en so het ek leer somme maak. Eendag het ek amper ‘n pak gekry omdat ek onder Bybelles iets aan my maatjie gevra het. Ek het my morsdood geskrik maar gelukkig toe nie slae gekry nie – net raas. Die skooltjie was maar ‘n een man skooltjie – al die klasse bymekaar – Hier het ons te heerlik met pouses gespeel – speletjies soos “Hasie” en ook wat hulle vandag Volkspele liedjies noem, gesing en tiekie gedraai. Ons leesboekies was nog in Hollands en ek moes ook maar net lees – My Ma was natuurlik die een wat ons met alles gehelp het.
By die skool het ek my Std 6 gemaak en wou niks weet nie [van by die huis bly en help met die huishouding] – ek wou net hoërskool toe en verder gaan leer. (Dit het 6 maande geduur voor my ouers wou toegee) My ouers het met die hulp van die skoolhoof, Mnr De Witt, ‘n beurs vir my gekry en is ek koshuis toe op Odendaalsrus – Vir die eerste 6 maande moes ek toe eers by my Ouma (ouers van my Ma) (my Oupa is in dieselfde tyd oorlede) gaan bly, omdat dit toe al in die helfte van die jaar was, en ook nog in Std 6 bly – Die volgende jaar is ek toe koshuis toe – Die verblyf by my Ouma was maar moeilik – Ek was hulle kombuisbediendetjie en het hier vir die eerste keer griep gekry en was baie siek, maar moes maar op om weer vir hulle te sorg want hulle is mos ook siek.
In die koshuis het dit nie te sleg gegaan nie – maar moes maar vir die onderwyseresse werkies doen om bietjie sakgeld te verdien, maar ek het net een doel in die lewe gehad en dit was om te leer sodat ek onderwyseres kan word en vir myself te kan geld verdien. Intussen het my ma nog twee dogters bygekry – Hulle was Regina en Rina, maar hulle was nog klein toe was ek al weg – Vanaf 1928 moes ek na ‘n ander hoërskool op Theunissen om my matriek te maak, want die leerlinge by Odendaalsrus se skool het gedaal en kon jy daar net tot Std 8 gaan – Gelukkig het ek nog Std 9 daar geskryf en geslaag en is toe ook daar aangeneem en voorgestel [in die NG Kerk].
Die jaar op Theunissen was lekker maar ook moeilik – want ek moes hard werk om in te haal, by te leer en aan te pas – maar tog geslaag – Die volgende jare 1929 en 1930 toe op Normaalkollege vir 2 jaar – Hier het ek ’n niggie gehad by wie ek toe darem naweke kon gaan deurbring. Die grootste probleem was geld – ek het geld by ‘n prokureur geleen maar moes alles met rente toe ek nou werk terugbetaal – Ander meisies kon so mooi aantrek – Ek moes maar tevrede wees met wat ek kon bekostig en dit was maar min – Ek onthou dat ek daar so vreeslik koud gekry het, want warm klere was eintlik die probleem, maar tog ten spyte van alles die lewe geniet en my onderwysereksamen geslaag.
Poste vir onderwysers was skaars en ek moes 6 maande wag voor ek ‘n pos gekry het. My eerste pos was [‘n aflospos] op Fouriesburg vir ‘n std 1-klas. Ek het [egter aan die einde van die jaar] toe nie vir die pos aansoek gedoen nie, want hulle wou iemand hê met sang en musiek. Die volgende skool was Vierhoek op ‘n plaas – Daarna Hoopvlei (hier 4 jaar gewerk) Daarna na Heilbron – Besterville Hier het ek Pa ontmoet en is getroud na ek twee jaar daar gewerk het.
Dudley Garner aan die woord
My moeder was, soos gemeld, ‘n dubbele Van Rooyen, iets wat ons as kinders ietwat verwonderd gelaat het as sy daarvan vertel het. Twee oupas en twee oumas met dieselfde van en tog nie familie nie. Hoe hou mens kop?
Eers heelwat later in ons eie volwasse lewe het ek en my nimlike eggenote, Helena Dorothea, née Kriel, die kloutjie by die oor kon kry. Die twee stamlyne gaan terug na twee van die seuns van die stamvader, Cornelis van Rooijen, naamlik Gerrit van Rooyen (b8) en Cornelis van Rooyen (b10). By die sesde geslag vanaf die stamvader, kom hierdie twee lyne weer bymekaar na 194 jaar toe my moeder se ouers met mekaar trou.
Hulle is Gerhardus Johannes van Rooyen *Hoopstad 13.10.1879 ≈Potchefstroom 16.03.1880 †Wesselsbron 15.05.1951 (b8c2d3e4f1g6) wat op 29 April 1907 met Regina Dorothea van Rooyen (b10c2d4e1f7g5) *Kromrivier, Cradock 24.09.1884 ≈ Cradock 28.07.1885 †Wesselsbron 19.06.1954, in die huwelik tree.

krygsgevangenes in Kaapstad tydens die Anglo-Boereoorlog.






